Die ritme van die see

ek kan vir jou lang stories skryf oor al die dae van my lewe
en jou insuig met my donker melodramatiese glimlag
ek kan jou vergeet en onthou en ignoreer en verafgod,
maar ek kan nie jou hand vashou nie

ek kan jou teken en verf, ek kan jou sien in die wolke,
maar ek kan jou nie omskep in 'n lewende wese nie
ek kan jou bel en jou roep en jou nader laat skuif,
maar dis net jy wat besluit of jy my wil aanvaar

daar is dae wat ek wonder wat van ons twee geword het
of jy sommer net vergeet het van ons vriendskap
van swart riviere soos 'n Koos Du Plessis sprokie
van jou kitaar op 'n verlate sonskynlose strand

van die einde van die somer in jou ma se huis
van die dae wat ek onthou het maar jy nooit,
nooit eers aanvaar het bestaan nie
en dan wonder ek of jy eendag sal onthou

dat ek my beloftes vir jou geskryf het
op die maat van die ritme van die see


© Niel De Waal Meiring