ketting bende

met pik in hand, oorkant die pad
in die spier witte middestad
die draadlose ketting bende grawe

om optiese vesel neer te lê
die sloot raak al dieper
soos ongelykheid in ons beskawing

sweet tap af en
straf die lyf van 'n slaaf
lugverkoeling hou my rekenaar koel

die internet is blitsvinnig
transformasie teen trapsuutjies pas
vuurrooi skaamte wat oor my spoel

so slim soos die houtjie van die galg
tog so doof soos 'n kwartel
vir ander se leed

wit meerderwaardigheidskompleks
so oud soos die kaapse wapad,
vervelig, afskuwelik, en wreed

© Niel De Waal Meiring