Die Telefoonboek


so nutteloos soos die telefoonboek

as jy laas jaar 'n klein trap leertjie by jou ma vir kersfees gekry het

sonder jou kan ons nou die gloeilampe omruil

bajonet of inskroef dit maak nie saak nie

jy is die telefoonboek

tog bly jy lastig soos 'n vlieg

wat op sweterige dae juis 'n dans met die vlieëplak soek

vir meer as twintig jaar woon jy nou al hier

jy kerm en kla en wurm en wurg

die bajonet in my vlees, kanker in die bloed murg

hulle sê 'n mens moet maar dankbaar wees

dat jy 'n tipe instink is – ingeskroef in my gene

oorgedra van ons voorvaders die grotbewoners,

maar ek bly in 'n trapleertjie hoë plafon woonstel

agter staal tralies en 'n mens moet bel,

'n bespreking maak en betaal om wilde diere te sien

ek het al lankal hulle nommer op die internet gekry

en op my foon gespaar

jy is die telefoonboek – nutteloos vir my

en ek wens die klaer was klaar

© Niel De Waal Meiring